Kulturele ontwikkeling by ons leerders is van kardinale belang.​ Ons poog om ‘n lewenslange liefde vir musiek, kuns, koor, verskeie orkeste en ensembles asook spraak en drama by ons leerders te kweek. Die kultuursentrum is ’n indrukwekkende bewys van die skool se verbintenis om uitstaande, holistiese onderwys te verskaf. Die kultuursentrum bestaan uit twee verdiepings musiekklaskamers wat aan die ruim kunsklas en die pragtige, kontemporêre konsertsaal grens. Die groter musieklokale op die onderste verdieping is om ons leerders vir weeklikse klasmusieklesse te akkommodeer. Die kleiner klaskamers is vir individuele musiekonderrig. Verruklike kunsuitstallings, musiekkonserte, toneelopvoerings, redevoering en ander glansryke geleenthede word in die konsertsaal aangebied. Wyle Jan F.E. Celliers se kaggel pronk in die einste saal as ‘n simbool van ons ryke kultuurerfenis.

Die musiekdepartement bestaan uit vyf voltydse en 13 deeltydse musiekonderwysers wat die volgende instrumente onderrig: klavier, klawerbord, viool, tjello, blokfluit, fluit, klarinet, saksofoon, trom, klassieke en kontemporêre kitaar.

Gemiddeld 230 van ons leerders ontvang instrumentale onderrig by die skool.

Musiekdepartement

  • Die musikale groepe waarvan leerders deel kan wees, is die junior en senior koor, die skoolorkes, blokfluit-ensembles, stryk-ensembles, die fluit-ensemble, ons eie “rock band”, asook Orff- en Marimba-orkeste.
  • Ons musiekleerders word vir die volgende musiekeksamens ingeskryf: Trinity College of Londen, Associated Board of the Royal Schools fo Music en Unisa. Vele van ons leerders verskyn op Unisa se ererol vir uitblinkers.
  • Jaarliks dring van ons leerders na die Hubert van der Spuy Musiekkompetisie, die Victoria Bennett-finaal en die Atterbury Musiekkompetisie deur.
  • Ons skoolkore behaal gereeld ‘n goue toekenning by ATKV-Applous en presteer uitstekend by ander koorfeeste en kunswedstryde.
  • Tydens twee klasmusiekperiodes per week word ELKE leerder aan musiek in klasverband blootgestel. Hiertydens word op sang, musiekgeskiedenis, ouditiewe ontwikkeling, improvisasie, teoretiese aspekte en instrumentale spel gefokus. Ons maak veral van die Kodaly- en Orff-opvoedingsmetodes gebruik.
  • Werkswinkels en simposiums stel ons leerders bloot aan wêreldberoemde musici en aanbieders deur middel van lesings en meesterklasse.

Drama – die ware en goeie soort – bied aan u ‘n kind ‘n uitlaatklep, maar ook ‘n prettige manier om selfvertroue te bou. Ons skool doen baie moeite om platforms te skep waarop ‘n kind hom/haar kreatief kan uitdruk.

Hoogtepunte:

  • Indrukwekkende konserte met ‘n sterk storielyn vir toneelspeel en gechoreografeerde danse, kostuums, ligte en alles wat glansryk is.
  • Toneelstukke wat spesiaal vir ons talentvolle dramaleerders geskryf word.
  • Ons eie reusedramakunswedstryd – Jan Drama – met items vir ieder en elk.
  • Weeklikse drama-afrigting deur opgeleide drama-onderwysers.
  • Deelname aan kompetisies en kunswedstryde.
  • ‘n Balans tussen kreatiewe samewerking in groepe en die ontwikkeling van die individu.

Jan Celliers hou gróót konserte waarvan elke leerder in die skool deel is. Ons glo ‘n kind moet minstens een keer in sy/haar lewe soos ‘n ster voel en gemaklik voor ‘n gehoor kan optree. Dit terwyl hy/sy onuitspreeklike genot beleef.

Redenaars: Ons glo elke leerder moet effektief en met selfvertroue kan kommunikeer. Baie moeite word gedoen om Jan Celliers se leerders met praat- en skryfvaardighede toe te rus.

Hoogtepunte

  • ‘n Groot hoeveeldheid platforms vir verskillende groeigeleenthede bv. ATKV-redenaars, Interskole, Oppietongaf, Radikale Redenaars, Kansvatter, Conspirito en ander kunswedstryde.
  • Werkswinkels in toespraakskryf – gelei deur spesialiste.
  • Individuele afrigting in die praatkuns.
  • Groepwerk tydens klastyd om saam te leer dink, skryf en praat.
  • Gefokusde klasmondelinge en gesonde interne kompetisies.
  • Blootstelling as spreker by kultuurfunksies van die skool.

Ons spog met:

  • ATKV-redenaars: naaswenners by landsfinaal en die beste taalgebruikwenner;
  • ATKV DigiSpanpraat: nasionale wenners;
  • Interskole: landsfinaalwenners in voorbereid en onvoorbereid;
  • algehele wenner in onvoorbereide redenaars;
  • Oppietongaf: topplekke by landsfinaal;
  • Kansvatter: finale ronde-wenners;
  • Conspirito: finale ronde-wenners;
  • Huisgenoot Eisteddfod: algehele redenaarwenner;
  • gekwalifiseerde beoordelaars op ons personeel.