Met die Matalprogram as basis en die toepassing van Reggio Emilia-beginsels val die klem uit die staanspoor op die kweek van ‘n ondersoekende ingesteldheid, die koestering van kreatiewe denke en estetiese bewustheid, die bevordering van wiskundige vaardighede en taalontwikkeling en ook om reeds op hierdie jong ouderdom sukses te kan geniet en mislukking realisties te kan verwerk. Weeklikse, gedifferensieerde temas skep die milleu vir deelname binne groepsverband waar kleuters aangemoedig word om self te skep, te redeneer en standpunt in te neem.
Daar word streng by die uitgangspunt gebly: kinders leer deur te speel! Voortgesette kommunikasie verskerp die sinergie tussen alle rolspelers. Deur middel van gereelde gesprekke en termynverslae word ouers deurlopend by hul kleuters se vordering betrek. Geskeduleerde kontaksessies tussen die Preprimêr- en Laerskoolpersoneel dra daartoe by dat graad 0’e oor die nodige vaardighede en vermoëns beskik om die meer formele onderrigsformeaat van die laerskool sonder moeite en onsekerheid baas te raak.
