Covid 19 Protokol


 Inleiding 

Met die uitbreek van die wêreldwye Corona-virus pandemie in Suid-Afrika, het die regering sekere wetgewing en maatreëls in plek gestel om die verspreiding van die virus in te perk en so die hoeveelheid mense wat gelyktydig siek word te verlaag om lewensverlies te beperk. Onder die toesig en beheer van die Departement van Gesondheid, mediese kenners en die Staatspresident se bevelsraad het verskeie Staatsdepartemente maatreëls getref om die pandemie te bestuur. So het die Departement van Basiese Onderwys ‘n bevel uitgereik dat alle openbare en onafhanklike skole vanaf 18 Maart 2020 gesluit sal wees tot verdere aankondiging. 

Doel van die Protokol 

Die Protokol is daarop gerig om die veiligheid en gesondheid van elke kind, ouer en personeellid van Laerskool Jan Celliers te alle tye as hoogste prioriteit te stel en om daarvoor voorsiening te maak dat beskermingsmaatreëls in plek gestel en afgedwing word om risiko’s tot die algehele minimum te beperk. Die Protokol het ten doel om die terugfasering van leerlinge en personeel in die skool te fasiliteer en te beheer totdat die skool weer met normale werksaamhede, soos voor die inperkingstydperk, kan voortgaan.

Hierdie Protokol as operasionele strategie, is onderworpe aan die Rampbestuursregulasies van 29 April 2020 soos uitgereik deur die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in terme van artikel 27(2) van die Rampbestuurswet van 2002.

Implementering van die Protokol 

  1. Laerskool Jan Celliers heropen amptelik op Dinsdag 14 April 2020 vir die tweede termyn met formele afstandsonderrig vir alle grade vanaf graad 1-7, sowel as vir die Pre-primêre afdeling vanaf graad 000 tot graad 0. Afstandsonderrig sal voortgaan totdat elke graad volledig terugfaseer het onder toestemming van die Raad van die skool. 

  2. Kleuterskoolouers sal via die weekprogram op die kommunikeerder en mailchimp kennis kry van temas en aktiwiteite vir graad 000 tot graad 0. 

  3. Ouers van graad 1-3 leerlinge sal ook via die kommunikeerder kennis kry van aktiwiteite en werkkaarte wat voltooi moet word. Die personeel van die Junior fase sal ook van die Zoom-platform gebruik maak om kontak met leerlinge te bewerkstellig.

  4. Graad 4-7 leerlinge het elkeen ‘n Jan Celliers e-posadres gekry waarmee die onderwysers via Microsoft Teams met hulle sal kommunikeer. Aanvanklik sal daar vir die eerste week slegs deur die D6-kommunikeerder en Engage gekommunikeer word om die platform vir afstandsonderrig te lê, alvorens daar na Microsoft Teams oorgegaan word. 

Veiligheidsmaatreëls op die skoolterrein 

Met die skool wat moontlik stelselmatig gaan heropen, is dit noodsaaklik dat sekere volhoubare maatreëls in plek gestel word om te verseker dat ons leerlinge en die gemeenskap veilig bly en ons die skooljaar sonder enige verdere onderbrekings kan voltooi. 

Veiligheid eerste is die kern van alle aksies en besluite.

Let weer op wyses om die COVID-19-verspreiding effektief te bekamp: 

  • Bly tuis indien siek.

  • Nies en hoes in die elmboog.

  • Was of saniteer hande gereeld en deeglik.

  • Maak oppervlakke gereeld met `n saniteerder skoon.

  • Vermy enige fisiese kontak met ander mense.

  • Dra ‘n masker.

  1. Wanneer die proses van terugfasering in werking begin tree, sal die graad 7 leerlinge soggens op die boonste sportveld afgelaai word en weer smiddae na 14:00 op dieselfde plek opgelaai word. Slegs een toegangshek met verkeersbeheer sal gebruik word. 

  2. Namate die terugfasering van meer grade plaasvind, sal die ruimtes vir op- en aflaai van leerlinge aangepas word. 

  3. Vanaf 8 Junie keer graad 1 leerlinge permanent terug skool toe sodat die onderwysers sekere vaardighede kan vaslê. Graad 1 word toegelaat om met skoolsweetpakke skool toe te kom. 

  4. Graad 7, graad 5 en graad 3 keer vanaf 8 Junie op Maandae, Woensdae en Vrydae terug skool toe en graad 6, graad 4 en graad 2 keer op Dinsdae en Donderdae terug. 

  5. Die daaropvolgende week ruil die groepe om sodat graad 3, 5 en 7 op Dinsdag en Donderdag skool toe kom en graad 2, 4 en 6 op Maandag, Woensdag en Vrydag. 

  6. Graad 7 en 6 leerlinge word in die skoolsaal vir agtereenvolgende dae geakkommodeer, terwyl graad 4 en 5 in die Kultuursentrum vir agtereenvolgende dae geakkommodeer word. Graad 1 word in hulle klasse gehuisves met verspreide pouses terwyl graad 2 leerlinge in graad 3 lokale gehuisves word vir die nodige afstand tussen groepe. 

  7. Toegang sal soggens op die boonste veld, by die kultuursentrum en die middelste veld geskied en sal duidelik met kaartaanwysings aan ouers gekommunikeer word. Ouers van graad 1 leerlinge sal van die hoofhek gebruik maak en kinders voor die skool se hoofingang aflaai. Roetekaarte word aan ouers voorsien vir die op- en aflaai van kinders. 

  8. Graad 0 leerlinge van Pre-primêr faseer vanaf 8 Junie terug aangesien hulle op ‘n aparte kampus is en geïsoleerd van die res van die skool kan funksioneer. Hulle toegang word tot die bonthek van kleuterskool beperk. ‘n Aparte Protokol vir Pre-primêr is aan alle kleuterskoolouers gestuur. 

  9. Elke kind ontvang twee gesigsmaskers op sy/haar eerste dag terug by die skool. Die maskers sal by die skandeerpunte uitgedeel word en ontvangs daarvan sal per register aangeteken word. Leerlinge meld in wintersdrag aan.

  10. Elke akademiese- en administratiewe personeellid is van ‘n deursigtige Perspex visor-tipe masker voorsien. Akademiese personeel dra ook lapmaskers wanneer hulle nie voor ‘n klas staan nie. Terreinpersoneel het elk 2 lapmaskers volgens spesifikasies ontvang. 

  11. Selfondersoekbriefies sal elektronies via Google Forms na kinders en ouers se selfone gestuur word en die voltooide inligting sal onmiddellik op die skool se bedryfstelsel beskikbaar wees vir die skool se rekord. Selfondersoekbriefies met 7 vrae moet deur leerlinge of hul ouers voltooi word en tesame met die temperatuurlesing by die toegangshek geregistreer word. 

  12. Leerlinge met ‘n temperatuur hoër as 37,4 grade C sal herskandeer word en na ‘n dokter op die terrein verwys word. Leerlinge met ‘n temperatuur hoër as 38 grade C sal nie tot die terrein toegelaat word nie. 

  13. Skandering van temperatuur, sanitering van hande, neem van register en kontrole van maskers sal elke skooldag plaasvind. Sosiale afstand sal deur middel van merkers bewerkstellig word. 

  14. Temperatuur van personeel word soggens met aankoms geneem, handsanitering vind plaas en ‘n elektroniese selfondersoek vraelys word voltooi en ingehandig met die oggend se temperatuur daarop geskryf. Die drukgang by die Wetenskap laboratorium word as toegangspunt gebruik. Terreinpersoneellede vergader in die SF du Toit saal waar dieselfde prosedures op hulle van toepassing is.

  15. Personeel bo 60 jaar asook diegene met onderliggende siekte- en risikotoestande, is almal deur hulle huisdokters geëvalueer en het ‘n doktersertifikaat ingedien. Spesiale maatreëls vir sosiale afstand en beskerming is vir diesulkes ingestel.

  16. Daar word voorsiening gemaak vir ‘n isolasieruimte in die bemarkingskantoor langs die swembad, sou enige persoon met ‘n hoër as die voorgeskrewe temperatuur moet wag vir verdere diagnose. 

  17. Mediese dokters uit die ouergemeenskap het aangebied om toesig te hou by die skanderingsproses om te verseker dat alles korrek verloop. 

  18. Graadhoofde sal met aankoms van ‘n bepaalde graad hulle oor alle risiko’s asook veiligeheidsmaatreëls toespreek. Onderwysers sal deurgaans die dra van maskers, handhawing van sosiale afstand, was van hande en gebruik van handreiniger kontroleer. 

  19. Afstandsonderrig duur voort vir graad 1 tot 6 leerlinge by die laerskool asook vir graad 000 tot graad 0 by Pre-primêr tot tyd en wyl ‘n volgende fase van terugfasering aangekondig word. 

  20. Sanitering sal deurlopend deur die dag plaasvind. Terreinpersoneel is vir hierdie taak geallokeer en genoeg reiniger is beskikbaar. Die skool sal gereeld ontsmet word, met klem op hoërisiko-oppervlakke soos traprelings, deurhandvatsels en badkamers. Daar sal 'n daaglikse skoonmaakprogram met spesifieke chemikalieë wees en spesifieke prosesse sal gevolg word. Spesifieke opleiding sal aan alle ondersteuningspersoneel rakende die skool se higiëniese program gegee word. 

  21. Vullisverwydering sal meer gereeld plaasvind.

  22. Die skool sal gereeld die was van hande met water en seep, of ‘n handontsmettingsmiddel afdwing. Daar sal ook ‘n kaart van die plasing van saniteerders op die kennisgewingborde aangebring word. 

  23. ‘n Tweede temperatuurskandering sal bedags om 12:00 gedoen word en aangeteken word. 

  24. Al die laerskool se klaskamers, badkamers, rekenaarsentrums en mediasentrum is reeds diep gereinig en ontsmet. Alle vullisdromme, deurhandvatsels, stoepreëlings en trappe is ook ontsmet. 

  25. Die Speelskool en Kleuterskool is ook deur ‘n goedgekeurde maatskappy diep gereinig en ontsmet. Dit sluit badkamers, vullisdromme, handreëlings stoepreëlings en trappe in. 

  26. Die handhawing van ‘n sosiale afstand van ten minste 1,5 m tussen persone sal deurentyd afgedwing word. Geen handdrukke, vriendskapsdrukkies of fisiese aanraking word toegelaat nie. 

  27. Banke en stoele in klaskamers sal 1,5m van mekaar af gerangskik wees. 

  28. Perspex-skerms is by die sekretaresses en die registratrise se werksareas aangebring. 

  29. Die skoolsaal en kamer 9 (‘n besonder groot lokaal wat huidiglik net gedeeltelik benut word) is met banke en stoele toegerus om groepe leerlinge te kan akkommodeer vir onderrig.

  30. Die skoolsaal, die kultuursentrum is met banke en stoele toegerus sodat volledige graadgroepe daar geakkommodeer kan word. 

  31. Akademiese personeel sal roteer en leerlinge sal slegs in registerklasverband (16-18 kinders) na die rekenaarsentrum, tegnologiesentrum, kunssentrum en Zoeloeklas hoef te roteer. Sosiale afstand kan dus gemaklik gehandhaaf word. 

  32. Rekenaarlokale sal na elke periode ontsmet word. Rekenaars en elektroniese muise sal met ontsmettingslappies (wipes) ontsmet word. Leerlinge sal opgelei word om hulle rekenaars te ontsmet. 

  33. In ‘n vak soos Tegnologie waar leerlinge werkstoerusting deel, sal die onderwysers van saniteermiddels voorsien word waarmee toerusting voor en na gebruik skoongemaak moet word. Reëls sal by elke werkstasie neergelê word om te verseker dat geen proses sonder vooraf reiniging mag voortgaan nie. 

  34. Geen skryfapparaat, handboeke, skrifte, skêre, uitveërs en liniale sal gedeel word nie. 

  35. Genoegsame handreiniger sal op strategiese plekke beskikbaar wees en leerlinge sal die geleentheid gegun word om gereeld hul hande te ontsmet. Leerlinge word ook aangemoedig om hulle eie handreiniger saam te bring sodat hulle hande voortdurend gereinig kan word. 

  36. Geen vierkant- en saalopening sal vir die res van die termyn plaasvind nie weens die gepaardgaande beperking op sosiale afstand.

  37. Die normale skoolrooster sal met teruggefaseerde leerlinge gevolg word om balans in die skooldag te bewerkstellig en die holistiese benadering van onderrig te behou. Die druk sal egter van die nie-eksamenvakke afgeneem word deur projekte oor langer periodes af te handel. 

  38. Voorlopig sal daar nie op Donderdae met aktiwiteitsperiodes voortgegaan word nie. Aktiwiteitsperiodes word weer in die derde termyn hervat. Daar sal weekliks onderling tussen vakonderwysers gereël word om hierdie periodes aan te wend vir die inhaal en inoefening van akademiese werk. 

  39. Geen LO periodes sal gedurende die res van die tweede termyn plaasvind nie. 

  40. Geen sport- en kultuuraktiwiteite word vir die res van die termyn toegelaat nie. 

  41. Die aantal leerlinge wat kleedkamers besoek, sal beheer word sodat samedromming nie plaasvind nie. 

  42. Daar word van personeel verwag om na die veiligheid van die leerlinge in hulle klasse om te sien. Terreindiens sal volgens ‘n rooster geskied en meer as die normale aantal personeellede word ontplooi.

  43. Speel- en ontspanruimtes vir pouses sal aangepas word om sosiale afstand te bewerkstellig en geen speletjies met fisiese kontak word toegelaat nie. Meer personeel sal gedurende pouses vir toesig ontplooi word. Leerlinge sal gedurende pouses op verskillende terreine geïsoleer word. Die kloktuin, terrein aan die voorkant van die skool, die amfiteater en omliggende plaveisel, die vierkant en die terrein voor die graad 1 klasse asook die boonste sportveld is as eet- en ontspanareas gedurende pouses geïdentifiseer. Pouses vind op verskillende tye plaas.

  44. Plakkate met veiligheidsmaatreëls is oral in die skool aangebring. 

  45. Merkers is by elke lokaal aangebring om ‘n sosiale afstand van 1,5m te bewerkstellig. 

  46. Personeelvergaderings sal buite skoolure in die skoolsaal gehou word. 

  47. Goeie ventilasie in klaskamers is belangrik volgens medici. Ten spyte van die koue winter sal daar gesorg word dat leerlinge nie koud kry en siek word nie, maar dat hulle ook deurentyd vars lug kry. 

  48. Daar sal geen druk wees om 100%-teenwoordigheid te handhaaf nie. Leerlinge en personeel wat siek voel, MOET tuis bly. Hulle moet vir Covid-19 getoets word en die skool dienooreenkomstig in kennis stel. Stigmatisering sal deur deeglike inligtingsessies bekamp word. 

  49. Alhoewel ons versoek dat leerlinge wat enigsins simptome toon by die huis moet bly, is dit noodsaaklik dat gesonde kinders wel skool toe kom. Daar het reeds baie akademiese tyd met die inperkingstydperk verlore gegaan en ons kinders moet ook weer in ‘n sosiale interaksie-omgewing funksioneer. Leerlinge moet asseblief nie onnodig wegbly nie. 

  50. Geen besoekers word by die skool toegelaat nie. Slegs dringende sake wat vooraf gereël word, sal nagekom word. Alle besoekers, ouers en kontrakteurs wat wel die terrein binnekom, sal verplig word om ‘n gesigmasker te dra, hulle hande met ‘n ontsmettingsmiddel by die hek te ontsmet en ‘n temperatuurskandering te ondergaan. Indien die persoon se temperatuur bo 38 grade C is, sal die persoon versoek word om die terrein te verlaat. Ons sekuriteitswagte sal opgelei wees om dit te hanteer.

  51. Die snoepwinkel sal vir ‘n onbepaalde tydperk gesluit wees. Om alle moontlike risiko’s te vermy, sal geen kos by die skool voorberei en versprei word nie. Alle leerlinge sal hul eie kospakkies vir die skooldag moet saambring skool toe. 

  52. Sou die snoepie weer heropen sal leerlinge in ‘n lang ry langs die tydelike klasse, minstens 1,5m van mekaar af, op die geel geverfde strepe wag vir ‘n beurt om bedien te word. 

  53. Alle busse wat soggens kinders na die skool vervoer, sal voor elke rit ontsmet word. Leerlinge sal hulle hande moet ontsmet voor hulle in die bus klim. Die bus sal nie met meer as ‘n 70%-kapasiteit gevul word nie. Die dra van maskers in die bus is verpligtend.

  54. In gevalle waar ouers of kinders reeds in die 14 dae selfisolasie was of met enige persoon wat positief vir die virus getoets het in kontak was, moet hierdie inligting aan die hoof verklaar word en moet daar ook ‘n mediese bewys voorgelê word dat die leerling in die teenwoordigheid van ander leerlinge mag voortgaan met onderrig of dat die ouers risikovry op die skoolterrein sal kan beweeg.

  55. Die bestuur van die skool het nie die outoriteit om die skool te sluit indien daar ‘n Covid-19-uitbreking is nie. Dit is die verantwoordelikheid van die Departement van Gesondheid. Uiteraard sal die skool weer diep gereinig word en ander maatreëls in plek gestel word alvorens onderrig hervat kan word. 

  56. Hoërisikoleerlinge word aan onder andere mediese toestande soos diabetes, respiratoriese toestande soos asma, hoë bloeddruk, hartsiektes, kanker en ander immuniteitsverswakkende toestande, gekenmerk. Dit is belangrik dat sulke leerlinge nie in kontak met groepe ander leerlinge kom nie. Indien u kind aan bogenoemde kriteria voldoen, moet u asseblief onverwyld u kind se graadhoof kontak sodat alternatiewe reëlings getref kan word om u kind steeds van kwaliteitonderrig te voorsien. 

  57. Geen ouer, onderwyser of diensverskaffer sal tydens ‘n 14 dae kwarantynperiode op die skoolterrein toegelaat word nie. Alle ouers en leerlinge wat gedurende die afgelope inperkingstydperk moontlik blootgestel was aan persone wat positief vir die virus getoets het, word ernstig versoek om selfkwarantyn van 14 dae toe te pas ter wille van die welsyn van die algemene skoolgemeenskap. 

  58. Alle leerlinge moet 14 dae by die huis bly indien hulle simptome begin toon of positief getoets word. Na afloop van die 14 dae of wanneer die leerling geen simptome meer toon nie, moet hy/sy weer getoets word. Ouers moet die graadhoof skakel en die negatiewe uitslag bevestig alvorens die leerling weer mag skool toe kom.

  59. Leerlinge en personeel wat by die skool siek word of siek by die skool opdaag, sal so gou as moontlik huis toe gestuur word. Siek leerlinge of personeel sal apart van gesonde leerlinge en personeel gehou word totdat hulle kan vertrek. Let daarop dat dit nie van skole verwag word om COVID-19-gevalle te identifiseer nie. Die meerderheid asemhalingsiektes is nie COVID-19 verwant nie. 

  60. Jangroentjie- en die Pre-primêre naskoolfasiliteite word stelselmatig saam met die graadgroepe terugfaseer. Ouers sal op hoogte gehou word met die proses van terugfasering. 

  61. Onderwysassisstente by die Speelskool sal vir die res van die inperkingstydperk en ten minste ook vir die winter op die skoolterrein gehuisves word. Die risiko van openbare vervoer en sosiale afstande word hierdeur beperk.

  62. Dit is van groot belang dat daar oop en eerlike kommunikasie tussen die huis en die skool moet wees. Siek personeel en leerlinge moet by die skool en die Departement van Gesondheid aangemeld word - dit is wetgewing. Mense wat siek word, se kontak met ander individue moet nagevolg kan word om die virus sover moontlik te bekamp. U samewerking om ons gemeenskap te beskerm is absoluut noodsaaklik. Dit is ouers en personeel se verantwoordelikheid om navrae so volledig moontlik te beantwoord. Die skool sal ook enige nuwe inligting wat ontvang word, so spoedig moontlik aan ons gemeenskap kommunikeer.

  63. Die belangrikste manier om ons leerlinge teen die virus te beveilig, is om te verseker dat goeie higiëniese gewoontes gevestig word. Dit sal gebeur as ons kinders die goeie gewoontes sien. Plakkate sal op strategiese plekke in die skool aangebring word oor relevante onderwerpe soos hande was, oppervlaktes wat vermy moet word, vermyding van fisiese kontak, veilige sosiale afstande, goeie higiëniese praktyke en hoes en nies in die elmboog. 

  64. Die skoolsielkundige, mev Carien Human, sal traumaberading vir slagoffers van Covid-19 in ons skoolgemeenskap kosteloos doen. Sy is steeds vir ander sielkundige dienste tot die skool se beskikking. 

  65. Die spelterapeut, Mev Ilze Norden, is ook beskikbaar vir terapie met kinders met emosionele knelpunte.

  66. Die ondersteuningsnetwerk van Jan Celliers is: 

  • Raad 

  • Ouergemeenskap 

  • ISASA (011 648 1331) 

  • Nasionale Departement van Gesondheid (012 395 8000) 

  • The National Institute For Communicable Diseases (NICD) (0800 029 999) 6. Milpark hospitaal (011 480 5600) 

  • Parkview polisiestasie (011 486 5000)

Elkeen van ons leerlinge, onderwysers en ouers het die verantwoordelikheid om ons Jan Celliers skoolgemeenskap te beskerm. U beskerm in die eerste plek u kind maar andersyds ook elke ander persoon wat deel van ons skool is. U samewerking, meelewing en ondersteuning is van die allergrootste belang. 

Hierdie Protokol kan gewysig word in ooreenstemming met nuwe regulasies oor onderwyswetgewing wat in die Staatskoerant gepubliseer word, asook maatreëls wat deur die Departement van Basiese Onderwys en ISASA in plek gestel word om die terugfasering van leerlinge te orden. 

Enige verdere inligting kan verkry word by die Nasionale Departement van Gesondheid Covid-19 hulplynnommer 0800 029 999 of op hulle Covid-19 whatsapp nommer 0600 123 456. 

Die skoolhoof is die nakomingsbeampte van die Protokol en kan vir enige navrae by gkeyter@jancelliers.co.za gekontak word.