Geriewe
Jan Celliers doen moeite om alle geriewe in stand te hou en brei voortdurend uit.
Ons het een doel voor oë: Om ons leerders in staat te stel om in
‘n stimulerende omgewing te floreer.
Rekenaartegnologie
Ons skool beskik oor twee moderne rekenaarsentrums wat daagliks benut word. Leerders word vanaf graad 0 in die korrekte gebruik en aanwending van rekenaartegnologie onderrig. In graad 7 het leerders reeds hul vaardighede tot ’n gevorderde vlak uitgebou en programmering bemeester.
’n Ruim lokaal word aangewend om leerders vanaf graad 0 aan kodering en programmering bloot te stel. Vaardighede word verder in aktiwiteitsperiodes verskerp waartydens leerders by groepe soos iPad Genius en Robotika kan inskakel.
Wêreldklas-rekenaarprogramme word deurgaans aangewend en ons personeel is voortdurend besig om relevante leermateriaal in te win en aan ons leerders oor te dra om te verseker dat hulle met die ewige en snel veranderende wêreld van tegnologie tred hou.
Alle klaskamers is met oorhoofse projektors, tablette en virtuele realiteitstelle toegerus om te verseker dat leerders se leerervaring nuut en interessant bly. Die aanwending van tegnologiese hulpmiddels laat onderwysers ook toe om leerders met visuele, ouditiewe en kinetiese leerstyle toe te rus.


Tegnologiesentrum
In die volledig toegeruste tegnologiesentrum word leerders in die veilige en doeltreffende gebruik van kraggereedskap opgelei. Nadat leerders die beplanning en ontwerp van hul idees voorgelê het, word hulle toegelaat om elektriese toerusting te gebruik om hul idees te vergestalt. Leerders leer van jongs af hoe om korrek te boor en te soldeer. Die gebruik van ‘n driedimensionele drukker help om kreatiewe idees aan te wakker.
Inligtingstegnologie
By JAN CELLIERS word lees en navorsingsvaardighede as die kern van enige leerproses beskou. Ons twee goed toegeruste biblioteke kweek ‘n liefde vir lees vanaf ‘n vroeë ouderdom. Die gereelde aankoop van die nuutste jeugliteratuur verseker dat ons biblioteke relevant en interessant bly. Die besondere leeskultuur van JAN CELLIERS word verder uitgebrei met:
- storie-aande;
- ‘n jaarlikse ouer-en-kind-storieontbyt;
- ‘n fantasiedag waar leerders ‘n karakter in ‘n boek voorstel;
- leesuitdagings;
- gereelde boekopvoerings deur toneelgroepe;
- aanbiedings en boektentoonstellings deur skrywers.


Kultuur- en musieksentrum
Die Barbara Pretorius Konsertsaal is ‘n ultramoderne lokaal, geskik vir musiekkonserte, redenaarskompetisies, drama-aande, kunsuitstallings en vele ander byeenkomste. Ons moderne kultuursentrum bevat klankdigte musiekkamers waar individuele musiekonderrig plaasvind. Daar is ook groter klaskamers waar klasmusiek en ensembles aangebied word. ‘n Amfiteater dien as ‘n gepaste opelug-konsertsaal op warm somersaande. Die plein in die sentrum se binnehof is die geskikte bymekaarkomplek wanneer die marimba-orkes optree of verversings bedien word.
Skaaksentrum
Die skaaksentrum is ‘n ruim lokaal wat daagliks vir skaakafrigting en toernooie aangewend word. Die guitige wit-en-swart-blokkiesvloer en bypassende blindings dra tot die skep van ‘n gesellige atmosfeer by. In die kloktuin is ‘n buitelug-skaakbord en pionne. Hier word skaakvaardighede tydens informele kragmetings ingeoefen.


Swembad
Dit is vir ons uiters belangrik om ‘n kultuur van waterveiligheid by die skool te skep. Sedert die swembad se voltooiing in 2017 speel die skool dikwels gasheer vir swemgalas waaraan tot vier skole se swemspanne op ‘n slag deelneem.
Alle graad 0- tot 7-leerders ontvang tydens die somermaande professionele swemafrigting gedurende LO-periodes. Die verhitte water stel die skool se afrigter in staat om vir twee termyne per jaar individue en swemspanne af te rig. Die skool se oopwater-swemspan neem sedert 2023 jaarliks aan die Midmarmyl-byeenkoms deel.
Astro-hokkiebaan
Die skool se langverwagte astro-hokkiebaan is in 2024 voltooi. Omdat hokkie ‘n baie gewilde sportsoort onder ons leerders is, is die nuwe spogbaan met groot opgewondenheid begroet. Talle hokkietoernooie word in die vooruitsig gestel. Die baan is veeldoelig en kan ook suksesvol vir ander sportsoorte, byvoorbeeld netbal en sokker, aangewend word.


Dieretuinmeer-sportgrond
Ons bestaande krieketgeriewe by die Dieretuinmeer se sportgrond is die afgelope seisoen aansienlik uitgebrei. Met die byvoeging van drie nuwe krieketnette is daar nou agt krieketnette tot die spelers se beskikking. Die kolfblad is ook verbreed en met vier blaaie is daar voldoende ruimte vir ons krieketspanne se wedstryde. Die ses tennisbane word ook as netbalbane ingespan.
Klein Jan – Boeknessie
Die pas voltooide biblioteek is ’n pragtige ruimte ontwerp rondom ons storieboom. Hier word kleuters se liefde vir lees aangewakker. Tussen die kleurvolle rakke met prenteboeke en gemaklike sitplek vir storie-lees, bied die biblioteek ’n veilige en inspirerende omgewing waar kleuters hul verbeelding vlerke kan gee. Danksy interaktiewe aktiwiteite en gereelde leesgeleenthede word kleuters se taalvaardighede ontwikkel en ’n lewenslange liefde vir lees by hulle gekweek.

