Sosiaal

Atletiek en Kenmekaar
Die groot JAN CELLIERS-familie ontmoet en leer mekaar beter ken tydens Preprimêr se prettige Atletiek-en-Kenmekaardag. Die ouers kry ook sommer die geleentheid om resies teen mekaar te hardloop. Nadat almal hul staal op die atletiekveld gewys het, is die worsbroodjies gereed en almal kuier gesellig saam.
Oupa-en-Oumadag
Preprimêr en die Speelskool is eerste aan die beurt op hierdie spesiale kuierdag vir grootouers. Vroegoggend word daar in en om die kleuters se klaskamers gekuier en foto’s geneem. Daarna vermaak kleuters groepsgewys grootouers met kwinkslae en sang. Verversings word deurentyd bedien en teen omstreeks 10:00 kom die laerskool aan die beurt.

Herfsloop
Elke jaar geniet die hele gesin die Herfsloop – Preprimêr se jaarlikse fondsinsamelingsgeleentheid. Kleuters stap fluks ’n roete deur die skool en verwerf ’n medalje na afloop van die geleentheid. Daarna is dit kermistyd met pret vir oud en jonk. Die feestelike karnavalgevoel maak hierdie heerlike familiedag vir ons JAN CELLIERS-ouers ’n onvergeetlike dag op die jaarlikse kalender.
Kersspel
Die jaarlikse Kersspel sluit die skooljaar op ’n besondere wyse af. Al die kleuters neem deel en bring op hul spontane, onskuldige manier ’n Kersboodskap met sang en Bybelvertellings aan die gehoor.

























