Die junior primêre Fase (grondslagfase) sluit die leerders van graad 1 tot graad 3 in en fokus op doelgerigte onderrig en voorbereiding van die leerders vir die meer formele werk wat later in sy/haar skoolloopbaan gaan volg.

Die grondslagfase word deur ‘n departementshoof (Me. Elna Fryer) bestuur met die bekwame hulp van graadhoofde in elke graadgroep. Graad 1 se graadhoof is me. Sonnika van den Berg. Gereelde fasevergaderings word gehou en nuwe innoverende onderwerpe word deurgaans aangepak.

Die uitstekende grondslagfase-onderwyseresse streef daarna om elke kind geborge en veilig te laat voel. Dit is vir ons belangrik dat die klasse klein gehou word sodat elke leerder se potensiaal ten volle bereik kan word. Gedurende onderrig poog ons om soveel as moontlik persoonlike aandag aan elke leerder te gee.

Daar word gereeld vergaderings en kursusse bygewoon. Sodoende bly die grondslagfase-onderwyseresse op hoogte van die nuutste onderwys- en kurrikulumontwikkelling. Deeglike weeklikse beplanning word in graadverband gedoen, asook daaglikse lesbeplanning sodat doeltreffende onderrig in ‘n ontspanne atmosfeer kan plaasvind. In klasverband vind gereelde differensiasie t.o.v. die onderrig plaas.

Verrykende en meer uitdagende opdragte word aan die leerders, wat opdragte vinniger bemeester en voltooi, gegee.

Leerders word ook deurlopend geprikkel en gemotiveer met ekstra uitdagings en aktiwiteite wat hul kognitiewe denke prikkel.

Assessering is die identifisering, versameling en interpretasie van inligting rakende die leerder se prestasie ten einde die onderwyser, ouers en ander rolspelers te begelei. In die junior fase is assessering ‘n deurlopende en integrale deel van die leerproses. Die professionele oordeel van die onderwyseres vorm die grondslag van die assesseringsproses. Hierdie assessering word formeel aangeteken en bygehou.

Kruisevaluering vind ook in graadverband plaas. Hier word groepe leerders geïdentifiseer en met ‘n groter groep van die graad vergelyk en geassesseer. Sodoende word deeglik waargeneem of graadgroepe eenvormige standaarde behou.

Ouers ontvang aan die begin van die jaar tydens die eerste reses ‘n verslag, en aan die einde van elke termyn ‘n rapport oor die leerder se vordering.

 

 

Vakke

Die klasonderwysers bied die volgende vakke aan: Afrikaans, Engels, Wiskunde, Skrif, Tegnologie, Bybelonderrig en Lewensvaardigheid.

In die grondslagfase is die onderafdelings van die drie hoofvakke soos volg:

Afrikaans (Huistaal):

  • Luister en praat
  • Lees en klanke
  • Skryf en handskrif
  • Die taalprogram word egter met al die ander vakke sowel as rekenaarondersteunende leesonderrig geïntegreer.

Engels:

  • Listening and speaking
  • Reading and phonics
  • Writing and handwriting
  • Engels (Eerste Taal) word vanaf graad 3 afwisselend met die Engels-departement van die senior fase van die skool aangebied.

Wiskunde:

  • Getalle, bewerkings en verwantskappe
  • Patrone, funksies en algebra
  • Ruimte en vorm (geometrie)
  • Datahantering

Wiskunde word vanuit ‘n probleemoplossingswyse benader. Ons poog om ‘n fyn balans tussen die ontwikkeling van insig en redenasie, asook getal- en bewerkingsvaardigheid te handhaaf. Woelwater Wiskunde is ‘n pretmiddag en vind ná skool in die derde termyn plaas om ‘n liefde vir die vak te kweek. Daar is geen getalplafon nie en leerders word aangemoedig om met getalle te werk wat hulle kan baasraak.

Die spesialisvakke soos Liggaamlike Opvoeding, Kodering, Kuns, Klasmusiek, Rekenaarvaardigheid, Inligting (Media), Tegnologie (net vir gr. 3) en Zoeloe (net vir gr. 3) word deur spesialisonderwysers onderrig. Aanvanklik vergesel die klasonderwyseres leerders met elke wisseling, totdat die kinders presies weet waar en wanneer alles gebeur.

In die weeklikse rooster is daar ook ‘n aktiwiteitsperiode waar leerders kies tussen: koor, spraak en drama, skaak, eksperi-maatjies, lego en kreatiewe handvaardigheid. Deelname aan koor en drama is aan oudisies onderhewig. Aan sommige van hierdie aktiwiteite is daar kostes verbonde, maar u sal binne die eerste week van die nuwe skooljaar ‘n vorm aangaande keuse en koste in die verband ontvang.