
- Vanaf graad 4 vorm die volgende leergebiede deel van die weeklikse rooster: Afrikaans Huistaal, English Home Language, Zoeloe, Aardrykskunde, Geskiedenis, Kuns, Wiskunde, Klasmusiek, Rekenaars, Bybel, Wetenskap, Tegnologie, Liggaamlike Opvoeding en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (laasgenoemde vanaf gr. 7).
- Taal- en syfergeletterdheid word as die belangrikste boustene tot sukses geag. Leerders word van jongs af aan die beste Afrikaanse en Engelse letterkunde blootgestel.
- Groot klem word op die belangrikheid van lees geplaas. Visuele geletterdheid en luistervaardighede is ook deel van die leerplan.
- Getalbegrip word van jongs af vasgelê. Leerders leer nie “resepte” nie – daar is altyd meer as een metode om ‘n vraagstuk op te los.
- Alle leerders word voorberei om aan die einde van hul graad 7-jaar toelating tot die hoërskool van hul keuse te verkry – hetsy ‘n openbare, onafhanklike of internasionale skool. Daarom word daar jaarliks aan plaaslike en internasionale eksamens en olimpiades deelgeneem.
- ‘n Stelsel van differensasie word in die hoofvakke gevolg om aan elke leerder die geleentheid te bied om optimaal in ‘n homogene groep te presteer. Navorsing het bewys dat leerders se selfvertroue en vordering aansienlik hierdeur bevorder word.
- Gedurende weeklikse aktiwiteitsperiodes kry leerders die geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer. Leerders het ‘n spektrum van keuses: drama, Frans, Eksperi-maatjies, handwerkvaardighede, koor, robotika, skaak, speech and drama.
“Met die klem op kreatiewe denkvaardighede, kweek ons veerkragtige leerders.”

- Alle vakke word deur gespesialiseerde vakkenners onderrig wat die vak tot op derdejaarsvlak bestudeer het.
- Vyf onderwysers beskik oor meestersgrade en nege onderwysers oor honneursgrade.
- Die voortdurende opleiding en ontwikkeling van die skool se onderwyskorps verseker kontinue vernuwing en verbetering.
- Ons hoof en adjunkhoofde het onlangs bekende privaatskole in Engeland en Nederland besoek om vernuwende onderwysmetodes te ondersoek.
- Een van ons vakhoofde dien op die komitee wat jaarliks die gesamentlike wiskunde-vraestelle opstel en ons een adjunkhoof dien as hoof van die sosiale wetenskappe-cluster.
- Ons leerkragte vat hande om oorgange tussen fases bv. vanaf graad 3 na graad 4 so kommervry as moontlik te laat verloop.
- Ons graad 4-graadhoof bemoei haar in die besonder met die wel en wee van die leerders tydens hierdie belangrike jaar.
- Alle graad 4-leerders en hul ouers woon ook ‘n opleidingsgeleentheid by waartydens verskillende leerstyle geïdentifiseer word en studiemetodes gedemonstreer word.
- Akademie is ons kernbesigheid en passievolle onderwysers bedink voortdurend maniere om elke kind kreatief in die leerproses te betrek.
- Ons deur staan altyd wawyd oop vir ouers om bekommernisse te bespreek.
- Ons glo in vroeë ingryping en huiwer nie om ouers te kontak oor ‘n kind se vordering en behoeftes nie.

AKADEMIESE VERRYKING
Akademiese Toere en Uitstappies
Om aan leerlinge ‘n holistiese onderwyservaring te bied, is dit belangrik dat hulle aan ‘n diverse verskeidenheid onderrigmetodes en -situasies blootgestel word. Verskeie toere en uitstappies word deur die jaar beplan met die graad 7-toer na die Kaap as ‘n jaarlikse hoogtepunt. Toere en uitstappies verskuif die grense. By JAN CELLIERS word nuwe onderriggeleenthede met ope arms verwelkom.
Elke termyn maak ons voorsiening vir uitstappies van opvoedkundige en kulturele aard. Natuurreservate en plekke van historiese belang word besoek en so word kinders aan hulle land en taalerfenis blootgestel.
Aktiwiteitsperiodes
Alle leerders neem op Donderdae tydens skooltyd aan ‘n verrykende aktiwiteit deel.
Juniors & Seniors
• Kreatiewe Handvaardigheid
• Koor
• Skaak
• i-Lego
• Afrikaanse Drama
Slegs Juniors
Eksperi-maats
Slegs Seniors
• Frans
• Engelse Drama
• iPad Genius
• Robotics

Entrepreneursdag
Aan die einde van die onderrig-jaar word elke graad 7-leerling ‘n entrepreneur in eie reg deur hul eie besigheid te beplan, ontwerp en te stig, as deel van die EBW leerplan. Ten einde kry leerlinge die geleentheid om hulle produkte aan die res van die skool ten toon te stel en te verkoop.
Markdae
Leerlinge (Graad 1 – Graad 7) kry elke jaar drie geleenthede om hulself op die gebied van entrepreneurskap te bewys. Een keer ‘n termyn word daar ‘n mark aangebied – pragtige versierde tafels en vrolike gesigte omskep dié dae in heerlike samekomste.
Karakter- en Waardevorming
Dit is ’n holistiese program, ontwerp vir laerskoolleerders, met die fokus op sosiale, emosionele en karakterontwikkeling. Hierdie kurrikulum ontwikkel die kognitiewe aspekte én begelei leerders om ’n stewige grondslag vir hul sosiale, emosionele en karakterontwikkeling te bou.








































