

18 maande tot 3 jaar
Die Speelskool bestaan reeds die afgelope 14 jaar – 10 jaar daarvan as voedingsbron vir JAN CELLIERS Laerskool. Die Speelskool is informeel, ’n huis-weg-van-die-huis met die klem op sosiale vaardighede en speel.
Die emosionele welstand en geborgenheid van kleuters, die ontwikkeling van lewensvaardighede met die klem op sosialisering en speel, en onberispelike fisieke versorging is ons prioriteit.
Dit is belangrik dat ons kleuters gelukkig is by die skool: Dat hulle geborgenheid ervaar, dat hulle geliefd en gekoester voel en dat hulle elke skooldag met uitbundige entoesiasme en oorgawe geniet! ’n Kleuter wat speel, is ’n gelukkige kleuter! Ons sien daarna uit om die unieke en opwindende pad saam met u en u kleuter te stap.

Elke klas het ’n onderwyseres en twee assistente. Toepaslike temas word deur middel van skeppende aktiwiteite, fynmotoriese ontwikkeling, beweging en sang vasgelê. Die sleutel vir suksesvolle en maklike aanpassing van kleuters, is geruste ouers wat vertroue het in die personeel se gesonde oordeel wat deur jare se ervaring gevorm is. Ons help die kleuters om hul toiletroetine te bemeester.

Klasgroepe bestaan uit ’n babagroep (vanaf 18 maande), ’n middelgroep (twee- tot driejariges) en die oudste groep (driejariges). Die oudste kleuters bring hul laaste jaar by die Speelskool deur en val die daaropvolgende jaar (in die jaar wat hulle vier jaar oud word) by Preprimêr in.
Geen heraansoek of nuwe inskrywing is vir Preprimêr nodig nie. Die enigste vereiste vir die nuwe afdeling is dat jou kleuter sy toiletroetine bemeester het.
Vir die 18 maande- tot 2 jarige-groepe is daar geen formele kurrikulum, assessering of verslae nie. In April, Augustus en November word daar wel informele assessering van die driejariges gedoen met die oog op ’n gemaklike oorskakeling na Preprimêr.

INDIVIDUALITEIT MAAK ONS ANDERS, RESPEK BIND ONS SAAM.
![]()










