Welkom by Jan Celliers Babasentrum

Hier beskou ons elke dag as ’n ontdekkingsgeleentheid om deur speel te leer!

Die babaklas is ’n behoefte wat besorgde ouers onder ons aandag gebring het en ’n visie wat ’n werklikheid geword het. Die gebalanseerde tieners van die toekoms begin hier met hul eerste babatreetjies.

’n Positiewe selfbeeld is krities om môre se leiers te kweek en by die Babasentrum loop ons die ekstra myl met ’n glimlag om hierdie doelwit te bereik!

Wat ons werklik uniek maak, is dat elke kleuter, klein en groot, soos ons eie gekoester word. Dit is ons ideaal dat elke kleuter hul identiteit in God sal vind en sodoende hul Skeppingsdoel verwesenlik.

Dit is vir ons die belangrikste dat ons kleuters gelukkig sal wees by die skool: Dat hulle geborge, geliefd en gekoester sal voel en dat hulle elke skooldag met uitbundige entoesiasme en oorgawe sal geniet! ’n Kleuter wat speel, is ’n gelukkige kleuter! Ons sien daarna uit om die unieke en opwindende pad saam met u en u kleuter te stap.

Navorsing bewys

Wêreldwye navorsing het in die afgelope dekade uitgewys hoe waardevol vroeë kinderontwikkeling is. En veral ook hoeveel voordele dit vir ’n land en sy bevolking inhou. James Heckman, ‘n Nobelpryswenner in die ekonomiese veld, sê dat hoe meer ‘n bepaalde land in vroeë kinderontwikkeling belê, hoe groter die dividende in menslike kapitaal is.

Verdere navorsing wys onder meer ook uit dat jong volwassenes wat aan vroeë kinderontwikkeling blootgestel is, tot 40% meer verdien as dié wat nie hierdie voorreg gehad het nie. Eersgenoemde is ook minder vatbaar vir dwelm- en alkoholverslawing en minder tot geweld geneig. Die voordele strek inderdaad wyd.

Dit is reeds onomwonde bewys dat die eerste 1 000 dae in ’n kind se lewe – dit wil sê van die swangerskaptyd tot die kind se tweede verjaarsdag – ’n deurslaggewende tydperk in ’n kind se ontwikkeling is. Sommige wetenskaplikes verwys dan ook daarna as “die goue tyd”. Dr. David Harrison, hoof van die Suid-Afrikaanse befondsingsmaatskappy DG Murray Trust, wat hoofsaaklik op vroeë kinderontwikkeling fokus, is daarvan oortuig dat kinders se lewenslange potensiaal in daardie tyd vasgelê word.

Opvoedkundige program

IN DIE BABASENTRUM GEBRUIK ONS DIE VOLGENDE PROGRAMME AS RIGLYNE VIR ONS KURRIKULUM:

  • Pienkvoetpret: ’n Gevestigde kurrikulum sedert 2000.
  • BabyGim: ’n Program deur dr. Melodie de Jager.
  • Speel-Speel Slim (0 tot 3 jaar): ’n Program deur dr. Melodie de Jager.
  • Practica Program deur Lizette van Huyssteen.

ONS PERSONEEL IS GEREED OM ELKE BABA VOLGENS HUL INDIVIDUELE
ONTWIKKELINGSFASE TE STIMULEER SODAT MYLPALE BEREIK WORD.

Deurlopende kommunikasie tussen ouers en personeel is noodsaaklik sodat die babaklas as ’n verlengstuk van die ouerhuis kan funksioneer. Eerlike kommunikasie word verlang sodat babas optimaal kan funksioneer en ontwikkel binne ’n geborge omgewing. Ons moet te alle tye in gedagte hou dat elke baba uniek is en volgens hul eie tempo ontwikkel.

Riglyne vir mylpale word binne bepaalde ouderdomme aangedui, hoewel dit nie streng afgedwing kan word nie. Sommige babas sal mylpale vinniger bereik, maar dit verseker nie noodwendig dat hulle ’n lewenslange voorsprong sal geniet nie.

Die ontwikkeling van babas tussen 3 en 18 maande is ’n dinamiese tyd waarin hulle fisiek, kognitief, sosiaal en emosioneel vinnig groei. Elke baba ontwikkel volgens sy/haar eie tempo, maar daar is tipiese mylpale wat in hierdie tyd bereik word waaraan ons doelbewus aandag skenk.

In JAN CELLIERS se Babaklas is ons fokus nie formele assessering en ongesonde druk nie. Ons vier elke mylpaal wat bereik word en verleen die nodige stimulasie om ontwikkeling te laat plaasvind. Ouers word in kennis gestel indien ’n spesifieke ontwikkelingsvaardigheid nie binne ’n realistiese tydperk bereik is nie.