Sport
Ons handhaaf ‘n gesonde sportkultuur, gekenmerk deur entoesiasme, positiewe deelname, spangees en provinsiale en nasionale prestasies. Deelnemers baat by uitstekende afrigting en organisering asook hoë gehalte sportvelde. Atletiek, swem, tennis, netbal, landloop, krieket, hokkie, rugby, gholf, perdry en skaak word in skoolverband aangebied. Met die deelname aan gereelde kampe en toere word die leerders verder verryk en ontwikkel. Die personeel bly ook relevant met gereelde opleiding in afrigting- en skeidsregterskursusse.
ATLETIEK
JAN CELLIERS se atlete behaal deur harde werk en dissipline groot sukses op die atletiekbaan. Atletiek word vanaf Januarie tot einde Februarie beoefen. JAN CELLIERS neem aan die D 10-byeenkomste deel om vir die Gauteng- en SA kampioenskap te kwalifiseer.
Wat atletiek betref, lewer JAN CELLIERS gemiddeld tien Gauteng-atlete per seisoen op. Een van ons topatlete is die vierde beste hoogspringer in die land. Ons het meer as een atletiekafrigter wat hul Atletiek Suid-Afrika-vlak 1-sertifikate verwerf het.
TWEEKAMP
JAN CELLIERS het kranige tweekamp-atlete en een van ons atlete het by die Wêreldkampioenskap ‘n sesde plek behaal. By die laaste Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskap het JAN CELLIERS 23ste onder 106 skole geëindig.
Swem
Met ons uitstekende swemmers wat verskeie afdelings gewen het, is JAN CELLIERS bevorder na die B-afdeling van die Sentraal-Gauteng Aquatics-liga. Ons skool lewer jaarliks provinsiale swemmers, wat by die nasionale kampioenskap uitblink, op.
JAN CELLIERS se swemmers vaar uitstekend tydens swembyeenkomste, sowel as op provinsiale vlak. Swem vind in Januarie tot Maart en dan weer in September tot November – ter voorbereiding van die nuwe seisoen – plaas. Die interhuisgala se massadeelname dra by tot die genot wat dié sportsoort inhou. JAN CELLIERS neem op Vrydae aan die georganiseerde swemgalas teen ander skole deel. Ons swemmers en van ons entoesiastiese ouers en personeel durf ook jaarliks die Midmarmyl-byeenkoms aan. Ons topgehalte swembad word behoorlik benut.
Netbal
JAN CELLIERS bied sterk kompetisie op ‘n netbalbaan en elke dogter kry die geleentheid om individueel te ontwikkel en terselfdertyd die hegte bande van ‘n spansport te koester. Ons skool is bekend vir die hoë standaard van afrigting én vir knap skeidsregters. Daar word gepoog om ‘n onderwyser/afrigter vir elke ouderdomsgroep se A- en B-spanne te hê. Die C- en D-spanspelers word deur vaardige studente afgerig. Mini-netbal is groot pret met die suiwer doel om van jongs af balvaardighede en die basiese spelreëls aan te leer. Die netbalseisoen strek vanaf Maart tot Junie.
JAN CELLIERS is die enigste skool wat in die laaste netballiga daarin geslaag het dat amper alle spanne tot by die uitspeelrondes vorder. Boonop eindig al hierdie spanne onder die top 4-spanne vir die seisoen. Ons o. 11-dogters troon as ligawenners uit. Heelwat van ons dogters is aksie-netbal-speelsters en oes die goue medaljes by die superliga (van Gauteng-Aksie-netbal) se finale ronde in.
Rugby
JAN CELLIERS kweek goeie sportmangees en deursettingsvermoë tydens rugbyafrigting. Ons ontwikkel elke speler om sy volle potensiaal te bereik. Die seuns begin in graad 1 en 2 met Tau-rugby waar hulle die basiese beginsels aanleer. Die ander spanne neem vanaf Maart tot Julie aan meer as een formaat van die spel deel.
Elke span het ‘n gekwalifiseerde onderwyser-afrigter, sowel as energieke studente wat bystand met die ontwikkeling van vaardighede verleen. Daar is vriendskaplike wedstryde teen onafhanklike en staatskole ter voorbereiding van die liga. Ons neem aan die Goue Leeus-premierliga, wat tans uit 15 skole bestaan, deel en durf skole met meer as 1 000 leerders aan.
In die rugbyliga was JAN CELLIERS se eerste span al die Goue Leeus-trofeewenners. Ons spanne staan jaarliks hul man in die kwartfinale en semifinale uitspeelwedstryde van ‘n mededingende liga. Ons lewer gemiddeld vyf rugbyspelers per seisoen in die Sentraal-streekspan op en van ons seuns draf vir die Goue Leeus-spanne uit.
In die Nasionale Sewes-toernooi het JAN CELLIERS-spelers ook al uitgeblink; om nie van klubrugby te praat nie. Onlangs het vier van ons spelers vir die Titans in die Rhinoweek uitgedraf. Twee van hulle is ook in die toerspan na Skotland ingesluit. Die afrigter van ons eerste rugbyspan is tot die A-paneel van die Goue Leeus-skeidsregters verkies. Boonop rig hy een van die Goue Leeusspanne af en dien op die bestuur van Sentraal-rugby.
Tennis
JAN CELLIERS beskik oor hoogsopgeleide tennisafrigters wat dwarsdeur die jaar tennis aanbied. Ons tennisspelers behaal provinsiale en nasionale sukses. Die skool gebruik die Parkwood-tennisklub by die Dieretuinmeer en in samewerking met ons professionele afrigters neem ons spelers aan vele wedstryde en toernooie deel. JAN CELLIERS bied ook, ter inburgering, mini-tennis vir graad 1- en 2-leerders aan.
Ons skool het toegewyde tennisspelers wat soggens vroeg al oefen. Ons seuns het onlangs die B-afdeling van die Tuida Kestell-toernooi gewen. Van ons spelers speel vir provinsiale spanne tennis.
Krieket
Krieket floreer by JAN CELLIERS.
Danksy van uitstekende afrigting en positiewe deelname groei ons krieket jaar ná jaar. Ons begin reeds in graad 1 en 2 met mini-krieket waar basiese tegnieke aangeleer word. Spanne neem aan die georganiseerde Johannesburg Noord-Wes-liga deel. Spelers speel hardebal krieket vanaf o. 9. Verskeie van ons seuns speel vir die Johannesburg-Noord Area-spanne.
Ons het ‘n hele paar dogters wat behendig met ‘n krieketkolf en -bal is. Die seisoen strek vanaf September tot November. In die krieketstreekspanne is daar volop van JAN CELLIERS se puik krieketspelers. Ons lewer gereeld spelers op wat provinsiale kleure verwerf wanneer hulle vir die Sentraal-Gauteng-Leeusspan of vir Gauteng-Noord lopies aanteken en paaltjies neem.
Ons krieketafrigters is bekend en gerespekteerd in die gebied en een van hulle is die bestuurder van Johannesburg-Noord-krieket. Die einste afrigter is ook ‘n koördineerder vir die T20-reeks en ‘n reguleerder van Gauteng-laerskoolkrieket. Heelwat van ons afrigters rig ook streekspanne af en bied uitstekende geleenthede vir ons spelers.
Hokkie
Positiewe spangees is kenmerkend aan JAN CELLIERS se hokkieseisoen. JAN CELLIERS bied mini-hokkie, asook ‘n junior afdeling en senior afdeling vir beide seuns en meisies aan. Hokkie word gedurende Junie en Julie aangebied. Ons het in 2024 ons splinternuwe astrobaan geopen.
Ons sportorganiseerders reël jaarliks suksesvolle sporttoere en afrigtingskampe (in samewerking met Camp Discovery en Sportisimo) om ons sportdeelnemers se vaardighede te slyp.
Skaak
JAN CELLIERS het homself as ‘n skaakskool van uitmuntendheid gevestig. Ons leerders word gereeld na nasionale skaakkampioenskappe genooi waar ons spelers uitstekend vaar en dikwels as nasionale skaakkampioene in hul ouderdomsgroepe aangewys word.
Ons skryf ons sukses toe aan die feit dat ons reeds in graad 0 skaak formeel begin afrig om vroeg potensiaal te kan identifiseer. Dinsdagmiddae is daar afrigting deur baie bekwame en ervare volwasse skaakspelers. Voorts verstaan ons ouers en spelers die waarde van gedissiplineerde oefeninge en getroue deelname aan toernooie. Ons vaar jaarliks uitstekend in die streekliga asook in die Supperclub-interskoleliga wat die privaatskole betrek.
In dié einste liga is JAN CELLIERS al vir langer as 18 jaar agtereenvolgend onoorwonne!
Landloop
JAN CELLIERS vaar uitstekend in landloop en van ons atlete neem gereeld op provinsiale vlak deel. Landloop strek vanaf Mei tot Julie. Ons oefen hard om fiks en gereed vir die onafhanklike skole se liga te wees. JAN CELLIERS bied een liga-byeenkoms per jaar aan waaraan meer as 300 atlete deelneem.
Ons bied ons landloopatlete die geleentheid om vrywillig aan die openbare skole se landloopliga, wat gedurende ons Augustusvakansie plaasvind, deel te neem.
‘n Interhuislandloopbyeenkoms word jaarliks gehou waar bykans elke deelnemer ‘n punt vir sy of haar span aanteken. Potensiële talent word op ’n prettige wyse geïdentifiseer.