Sport

Ons handhaaf ‘n gesonde sportkultuur, gekenmerk deur entoesiasme, positiewe deelname, spangees en provinsiale en nasionale prestasies. Deelnemers baat by uitstekende afrigting en organisering asook hoë gehalte sportvelde. Atletiek, swem, tennis, netbal, landloop, krieket, hokkie, rugby, gholf, perdry, bergfiets, tweekamp  en skaak word in skoolverband aangebied. Met die deelname aan gereelde kampe en toere word die leerders verder verryk en ontwikkel. Die personeel bly ook relevant met gereelde opleiding in afrigting- en skeidsregterskursusse.

 

ATLETIEK

JAN CELLIERS se atlete behaal deur harde werk en dissipline groot sukses op die atletiekbaan. Atletiek word vanaf Januarie tot middel Maart beoefen. JAN CELLIERS neem aan die D 10-byeenkomste deel om vir die Gauteng- en SA kampioenskap te kwalifiseer.

Wat atletiek betref, lewer JAN CELLIERS gemiddeld tien Gauteng-atlete per seisoen op. Een van ons topatlete is die vierde beste hoogspringer in die land. Ons het meer as een atletiekafrigter wat hul Atletiek Suid-Afrika-vlak 1-sertifikate verwerf het.

TWEEKAMP

JAN CELLIERS het kranige tweekamp-atlete en by die laaste Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskap het JAN CELLIERS 12de onder top skole geëindig. Veertien leerders verteenwoordig Sentraal Gauteng In Oudshoorn by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe In 2025

Swem

JAN CELLIERS het twee Swemspanne, in termyn 1 swem die A-span swem in die A-afdeling van die Sentraal-Gauteng Aquatics-liga en die B-span swem in die B-afdeling. Gedurende Termyn 3 neem Jan Celliers deel aan die privaatskool liga.

JAN CELLIERS se swemmers vaar uitstekend tydens swembyeenkomste, sowel as op provinsiale vlak. Swem vind in Januarie tot Maart en dan weer in September tot November – ter voorbereiding van die nuwe seisoen – plaas. Die interhuisgala se massadeelname dra by tot die genot wat dié sportsoort inhou. JAN CELLIERS neem op Vrydae aan die georganiseerde swemgalas teen ander skole deel. Ons swemmers en van ons entoesiastiese ouers en personeel durf ook jaarliks die Midmarmyl-byeenkoms aan. Ons topgehalte verhitteswembad word behoorlik benut.

Netbal

JAN CELLIERS bied sterk kompetisie op ‘n netbalbaan en elke dogter kry die geleentheid om individueel te ontwikkel en terselfdertyd die hegte bande van ‘n spansport te koester. Ons skool is bekend vir die hoë standaard van afrigting én vir knap skeidsregters. Daar word gepoog om ‘n onderwyser/afrigter vir elke ouderdomsgroep se A- en B-spanne te hê. Die C- en D-spanspelers word deur vaardige studente afgerig. Mini-netbal is groot pret met die suiwer doel om van jongs af balvaardighede en die basiese spelreëls aan te leer. Die netbalseisoen strek vanaf Februarie tot Junie.

Jan Celliers lewer twee o.13 Gauteng-speelsters op in 2025.

Rugby

JAN CELLIERS kweek goeie sportmangees en deursettingsvermoë tydens rugbyafrigting. Ons ontwikkel elke speler om sy volle potensiaal te bereik. Die seuns begin in graad 1 en 2 met Tau-rugby waar hulle die basiese beginsels aanleer. Die ander spanne neem vanaf Februarie tot Julie aan meer as een formaat van die spel deel.

Elke span het ‘n gekwalifiseerde onderwyser-afrigter, sowel as energieke studente wat bystand met die ontwikkeling van vaardighede verleen. Daar is vriendskaplike wedstryde teen onafhanklike en staatskole ter voorbereiding van die liga. Ons neem aan die Goue Leeus-premierliga, wat tans uit 15 skole bestaan, deel en durf skole met meer as 1 000 leerders aan.

Ons spanne staan jaarliks hul man in die kwartfinale en semifinale uitspeelwedstryde van ‘n mededingende liga. Ons lewer gemiddeld vier rugbyspelers per seisoen in die Sentraal-streekspan op.

Die afrigter van ons eerste rugbyspan is tot die A-paneel van die Goue Leeus-skeidsregters verkies. Boonop rig hy een van die Goue Leeusspanne af en dien op die bestuur van Sentraal-rugby.

 

Tennis

JAN CELLIERS beskik oor hoogsopgeleide tennisafrigters wat dwarsdeur die jaar tennis aanbied. Ons tennisspelers behaal provinsiale en nasionale sukses. Die skool gebruik die Parkwood-tennisklub by die Dieretuinmeer en in samewerking met ons professionele afrigters neem ons spelers aan vele wedstryde en toernooie deel. JAN CELLIERS bied ook, ter inburgering, mini-tennis vir graad 1-, 2- en 3-leerders aan.

Ons skool het toegewyde tennisspelers wat soggens vroeg al oefen. Jaarliks speel die o.11 en o.13 seuns en dogterspanne by die ATKV-Buffelspoort tennistoernooi. Gedurende 2025 tree ons o.13 dogter uit as die wenner van die toernooi. Teore wat die senior tennis spanne aan deelneem sluit in die jaarlike Bethlehem toernooi en Sun City toernooi.

Krieket

Krieket floreer by JAN CELLIERS.

Danksy van uitstekende afrigting en positiewe deelname groei ons krieket jaar ná jaar. Ons begin reeds in graad 1 en 2 met mini-krieket waar basiese tegnieke aangeleer word. Spanne neem aan die georganiseerde Johannesburg Noord-Wes-liga deel. Spelers speel hardebal krieket vanaf o. 9. Verskeie van ons seuns speel vir die Johannesburg-Noord Area-spanne.

Die seisoen strek vanaf Julie tot Oktober. In die krieketstreekspanne is daar volop van JAN CELLIERS se puik krieketspelers. Ons lewer gereeld spelers op wat provinsiale kleure verwerf.

Ons krieketafrigters is bekend en gerespekteerd in die gebied en een van hulle is die bestuurder van Johannesburg-Noord-krieket. Die einste afrigter is ook ‘n koördineerder vir die T20-reeks en ‘n reguleerder van Gauteng-laerskoolkrieket. Heelwat van ons afrigters rig ook streekspanne af en bied uitstekende geleenthede vir ons spelers.

Zoo Lake Krieketklub bied die geleentheid dat spelers deurlope deur die jaar hul vaardigehde te verbeter.

 

Hokkie

Positiewe spangees is kenmerkend aan JAN CELLIERS se hokkieseisoen. JAN CELLIERS bied mini-hokkie, asook ‘n junior afdeling en senior afdeling vir beide seuns en meisies aan. Hokkie word gedurende Julie tot September aangebied. Ons het in 2024 ons splinternuwe astrobaan geopen. Wedstryde word teen verskeie privaatskole gespeel. Leerders kry die geleentheid om aan D10-distrikproewe deel te neem.

Skaak

JAN CELLIERS het homself as ‘n skaakskool van uitmuntendheid gevestig. Ons leerders word gereeld na nasionale skaakkampioenskappe genooi waar ons spelers uitstekend vaar en dikwels as nasionale skaakkampioene in hul ouderdomsgroepe aangewys word. 

Ons skryf ons sukses toe aan die feit dat ons reeds in graad 0 skaak formeel begin afrig om vroeg potensiaal te kan identifiseer. Dinsdagmiddae is daar afrigting deur baie bekwame en ervare volwasse skaakspelers. Voorts verstaan ons ouers en spelers die waarde van gedissiplineerde oefeninge en getroue deelname aan toernooie. Ons vaar jaarliks uitstekend in die streekliga asook in die Supperclub-interskoleliga wat die privaatskole betrek. Jan Celliers lewer twee springbok spelers op in 2025. Hulle verteenwoordig Suid – Afrika by die FIDE Wêreld Beker in Georgia en Die FIDE Wêreld Skaak-kampieonskappe Kazakhstan. Twee spelers neem deel aan die Commonwealth Skaak-kampieonskappe.

Landloop

JAN CELLIERS vaar uitstekend in landloop en van ons atlete neem gereeld op provinsiale vlak deel. Landloop strek vanaf Mei tot Augustus. Ons oefen hard om fiks en gereed vir die onafhanklike skole se liga te wees.

Ons bied ons landloopatlete die geleentheid om vrywillig aan die openbare skole se landloopliga, wat gedurende ons Augustus vakansie plaasvind, deel te neem en sodoende te kwalifiseer vir D10-distrikspan wat geleentheid kry om te kwalifiseer vir Gauteng- en Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.

‘n Interhuislandloopbyeenkoms word jaarliks gehou waar bykans elke deelnemer ‘n punt vir sy of haar span aanteken. Potensiële talent word op ’n prettige wyse geïdentifiseer.

Ruitesport

Jan Celliers neem jaarliks met trots aan die SANESA-kompetisies deel. In 2025 is een van ons ruiters aangewys as die vyfde beste ruiter in die land in haar kategorie.

Ons lewer jaar na jaar uitstaande ruiters op wat vir die Gauteng-span gekies word en gereeld as nasionale kampioene aangewys word.
In 2025 het Jan Celliers se ruiters ook hul SANESA-liga met groot sukses gewen.

Bergfiets

Jan Celliers neem deel aan die Gauteng Skole Bergfiets XCO- en Gauteng Skole Marathon-reekse.
Die seunspan van Jan Celliers het algeheel agtste in die Gauteng Skole Bergfiets XCO-reeks geëindig en het daarmee gekwalifiseer om aan School Cycling South Africa se Laerskole Interprovinsiale Byeenkoms deel te neem teen die beste skole van al die provinsies. Daar het hulle ’n indrukwekkende 13de plek uit 84 skole landwyd behaal.

Boonop het Jan Celliers ook ’n ryer opgelewer wat vir die Gauteng Provinsiale Span gekies is om die provinsie by die Nasionale Kampioenskappe te verteenwoordig. Die Gauteng-span is uiteindelik as wenners vir 2025 gekroon.