Kulturele ontwikkeling by ons leerders is van kardinale belang.​ Ons poog om ‘n lewenslange liefde vir musiek, kuns, koor, verskeie orkeste en ensembles, asook spraak en drama by ons leerders te kweek. Die kultuursentrum is ‘n indrukwekkende bewys van die skool se verbintenis om uitstaande, holistiese onderwys te verskaf. Die kultuursentrum bestaan uit twee verdiepings musiekklaskamers wat aan die ruim kunsklas en die pragtige, kontemporêre konsertsaal grens. Ons leerders word vir weeklikse klasmusieklesse by die groter musieklokale op die onderste verdieping geakkommodeer. Die kleiner klaskamers is vir individuele musiekonderrig. Verruklike kunsuitstallings, musiekkonserte, toneelopvoerings, redevoering en ander glansryke geleenthede word in die konsertsaal aangebied. Wyle Jan F.E. Celliers se kaggel pronk in die einste saal as ‘n simbool van ons ryke kultuurerfenis.

KULTUUR VIR ELKEEN.
14 INSTRUMENT-SPESIALISTE PLUS KOOR, ORKES,
REDENAARS EN DRAMA

Die musiekdepartement bestaan uit vyf voltydse en 13 deeltydse musiekonderwysers wat die volgende instrumente onderrig: klavier, klawerbord, viool, tjello, blokfluit, fluit, klarinet, saksofoon, trom, klassieke en kontemporêre kitaar.

‘n Gemiddeld van 230 van ons leerders ontvang instrumentale onderrig by die skool.

Musiekdepartement

  • Die musikale groepe waarvan leerders deel kan wees, is die junior en senior koor, die skoolorkes, blokfluit-ensembles, stryk-ensembles, die fluit-ensemble, ons eie “rock band”, asook Orff- en marimba-orkeste.
  • Ons musiekleerders word vir die volgende musiekeksamens ingeskryf: Trinity College of Londen, Associated Board of the Royal Schools of Music en Unisa. Vele van ons leerders verskyn op Unisa se ererol vir uitblinkers.
  • Jaarliks dring van ons leerders na die Hubert van der Spuy-musiekkompetisie, die Victoria Bennett-finaal en die Atterbury-musiekkompetisie deur.
  • Ons skoolkore behaal gereeld ‘n goue toekenning by ATKV-Applous en presteer uitstekend by ander koorfeeste en kunswedstryde.
  • Tydens twee klasmusiekperiodes per week word élke leerder aan musiek in klasverband blootgestel. Hiertydens word op sang, musiekgeskiedenis, ouditiewe ontwikkeling, improvisasie, teoretiese aspekte en instrumentale spel gefokus. Ons maak veral van die Kodaly- en Orff-opvoedingsmetodes gebruik.
  • Werksessies en simposiums stel ons leerders bloot aan wêreldberoemde musici en aanbieders deur middel van lesings en meesterklasse.

“Ons talentvolle musiekleerders kry talle geleenthede om op te tree en mee te ding, selfs vir beurse.”

“Selfs beginners kry geleentheid gedurende saalopeninge, musiekmiddae en -aande, asook musiekkonserte en kunswedstryde om hul passie uit te leef.”

Dramadie ware en goeie soort – bied aan u kind ′n uitlaatklep, maar ook ‘n prettige manier om selfvertroue te bou. Ons skool doen baie moeite om platforms te skep waar ′n kind hom/haar kreatief kan uitdruk.

HarmonieDie Jan Celliers Eisteddfod bied aan elke musiekleerder die geleentheid om in ’n bekende en gemaklike omgewing aan ’n eisteddfod teen leerders van ander skole deel te neem. Daar is kategorieë vir elke moeilikheidsgraad om sodoende aan elke leerder die geleentheid te bied om deel te neem.

Hoogtepunte:

  • Indrukwekkende konserte met ‘n sterk storielyn vir toneelspeel en gechoreografeerde danse, kostuums, ligte en alles wat glansryk is.
  • Toneelstukke wat spesiaal vir ons talentvolle dramaleerders geskryf word.
  • Ons eie reusedramakunswedstryd – Jan Drama – met items vir ieder en elk.
  • Weeklikse drama-afrigting deur opgeleide drama-onderwysers.
  • Deelname aan kompetisies en kunswedstryde.
  • ‘n Balans tussen kreatiewe samewerking in groepe en die ontwikkeling van die individu.

Jan Celliers hou gróót konserte waarvan elke leerder in die skool deel is. Ons glo ‘n kind moet minstens een keer in sy/haar lewe soos ‘n ster voel en gemaklik voor ‘n gehoor kan optree. Dit terwyl hy/sy onuitspreeklike genot beleef.

Redenaars: Ons glo elke leerder moet doeltreffend en met selfvertroue kan kommunikeer. Baie moeite word gedoen om JAN CELLIERS se leerders met praat- en skryfvaardighede toe te rus.

Hoogtepunte:

  • ‘n Groot hoeveeldheid platforms vir verskillende groeigeleenthede bv. ATKV-redenaars, Interskole, Oppietongaf, Radikale Redenaars, Kansvatter, Conspirito en ander kunswedstryde.
  • Werksessies in toespraakskryf – gelei deur spesialiste.
  • Individuele afrigting in die praatkuns.
  • Groepwerk tydens klastyd om saam te leer dink, skryf en praat.
  • Gefokusde klasmondelinge en gesonde interne kompetisies.
  • Blootstelling as spreker by kultuurgeleenthede van die skool.
  • ATKV Tjokkertoneel.

Ons spog met:

  • ATKV-redenaars: Naaswenners by nasionale eindronde en die beste taalgebruikwenner;
  • ATKV-DigiSpanpraat: Nasionale wenners;
  • Interskole: Nasionale wenners in voorbereid en onvoorbereid; algehele wenner in onvoorbereide redenaars;
  • Oppietongaf: Topplekke by nasionale eindronde;
  • Kansvatter: Finale ronde-wenners;
  • Conspirito: Finale ronde-wenners;
  • Huisgenoot Eisteddfod: Algehele redenaarwenner; gekwalifiseerde beoordelaars op ons personeel.